Wednesday, April 30, 2014

Borrels

my woorde styg soos borrels
geluidloos
breek deur die oppervlak
en verdwyn in die eindelose atmosfeer
terwyl jy wag
vraend
gryp ek vergeefs in die lug
na 'n antwoord buite my bereik

Monday, April 21, 2014

Hart

die glimlagte sny soos lemme
en die lag weerklink ondraaglik hard
in die leë ruimte om my hart
ek wil die deur toemaak
en in my stilte skuil
maar ek het liefgekry
my hart is te groot
die deur kan lankal nie meer toe nie

Sunday, April 20, 2014

Vis

die grys vis het boontoe geswem
sy rug gekeer op die stil donker dieptes
bekendheid agtergelaat
met verwondering die kleure aanskou
met die ligstrale gedans
en die korale aanbid
maar die kleure het te helder geword
die ligstrale het sy oë gebrand
en die korale was hard en ongenadig
die grys vis het afgesak na die middelste niks
en daar gewag op die net
om hom van sy seer te verlos

Saturday, May 25, 2013

Geluk

Sy probeer geluk vasgryp en vorm, iets tasbaars daaruit maak. Maar dit gly deur haar vingers soos ligstrale en skyn tot in haar hart. Waar dit alles warm maak en laat dans, en tog ook soms liggies laat bewe omdat die helder lig die skadu's duikeliker omlyn.

Wolke

Die grys wolk daal stadig neer. Sy hou haar arms uit, palms oop, en probeer keer. Probeer die donkerte wegdruk. Probeer vashou aan die lig en die oopte, maar haar arms verdwyn in die mis. Die fyn druppels waai teen haar gesig en sy kyk na haar voete wat nog in die lig staan. Dan haal sy diep asem en trek die grysheid tot binne, en haar voete verdwyn.

Saturday, February 16, 2013

Blom


Sy hou die blou sonneblom omhoog, en lag van lekkerkry. Trek haar asem diep in en voel die vreugde deur haar stroom. Dan kyk sy na die gesigte om haar, en verwonder haar  – sien hulle dit dan nie? 'Kyk die blou blom!' roep sy uit en sien hoe die gesigte stroewer word, die fronse dieper. En hulle kyk na haar, sien nie die blom raak nie. Sy sien die spinnerakke van afkeur en wantroue nader sweef, en laggend dans sy weg sonder om weer om te kyk na die toegespinde grys mense.